KOM REIS SAAM OP ’N GESKIEDKUNDIGE MUSIEKREIS
Die bekroonde orrelis Winand Grundling improviseer op die orrel aan die hand van groot nuusgebeure in die geskiedenis, waaronder die Hindenburg-lugramp, die atoombomaanval op Hirosjima, die maanlanding, die eerste hartoorplanting, die dood van prinses Diana, die gebeure van 9/11, die Covid-19 pandemie en die Springbokke se Wêreldbeker-oorwinning in 2023.
Die geliefde stemkunstenaar Johann Nel dra die destydse brekende nuus van die spesifieke gebeurtenis voor en verskaf interessante inligting, terwyl bekende en verrassende temas op die orrel geïmproviseer word. Dié kombinasie sorg vir ’n intense en emosionele musiekreis deur ons onlangse geskiedenis wat ook die orrel se relevantheid as ’n “kommentator” op groot nuusgebeure beklemtoon. ’n Wye reeks van musiek word ingesluit – van klassiek tot kontemporêr. Het jy al ’n Shakira-treffer op die orrel gehoor? Kom luister.
Die teks is geskryf deur Winand se broer, die skrywer en TV-aanbieder Erns Grundling, wat ook die produksie vervaardig. Aanskou die mens is al opgevoer by onder meer die KKNK, Woordfees en Aardklop en was by laasgenoemde fees genomineer in die kategorie “Beste musiekgedrewe uitvoering” (2025). Kom geniet hierdie Sondagoggend-vertoning kort ná die erediens by die Welgemoed Kunstefees.